NGK Durbanville Bergsig rehabiliteer die Kuilsrivier

  • Published:

Daar is ‘n paar ooreenkomste tussen my en ds. Sydney Saayman. ‘n Aantal jare gelede het Sydney Saayman met sy hond langs Kuilsriver gestap. Hy het gesien hoe vuil die rivier is.  Die skokkende toestand was vir hom ‘n steen des aanstoots en die idee het by hom posgevat dat hulle, die gemeente, iewers iets moet doen om die rivier te herstel.  Moontlik op dieselfde tydstip het ek langs die Liesbeekrivier met my hond gestap en ek het gesien hoe besoedel die rivier is. Ek onthou nog dat ek gedink het Kaapstad is geseënd met soveel riviere maar kyk net hoe verwaarloos ons hierdie natuurskat! Dit is egter waar die ooreenkomste tussen my en ds. Sydney ophou. Ek het niks gedoen om die Liesbeek te rehabiliteer nie maar hy en sy gemeente het werk gemaak daarvan om Kuilsrivier te rehabiliteer.

Groot dade begin mKuils River clean up by NRKet ‘n saadjie wat geplant word en in 2013 het NGK Durbanville-Bergsig Aardversorgings Diensaksie 'n Eko Ekspo aangebied met verskeie uitstallers (SAFCEI ingesluit). Die idee was om mense bewus te m aak van ekologiese kwessies.  Só het 'n aardversorgings-diensaksie in die gemeente ontstaan wat drie areas geïdentifiseer het waar hulle betrokke wou wees in die gemeenskap:

1)           Die Kuilsrivier Projek.

2)           Groentetuin Projek

3)           Blootstelling.

Die Kuilsrivier Projek

Sydney Saayman met n jongspan van die NGK Durbanville Bothasig Sydney Saayman met n jongspan van die NGK Durbanville Bothasig

Die saadjie het behoorlik ontkiem en met behulp van Stad Kaapstad het Durbanville-Bergsig se Aardversorgings span reeds 3 skoonmaak-operasies sedert November 2014 onderneem.  Hulle het ook met ander organisasies soos "Friends of the Liesbeek River" en AROCHA (SA) geskakel. (AROCHA is 'n internasionale Christen natuurbewarings organisasie wat reeds in 20 lande betrokke is by verskeie projekte, onder meer die rehabilitasie van riviere.)

“Ons ideaal is dat Kuilsrivier weer herstel moet word. Ons wil van al die rommel ontslae raak, uitheemse plantgewasse verwyder en ons wil die kwaliteit van die water verbeter.” Aldus Sydney Saayman.

By hierdie man en sy span is daar dan ook geen gebrek aan ‘n visie nie, want hierdie rehabilitiasie moet vanaf die oorsprong tot waar die rivier uitmond in die see geskied. ‘n Reuse-taak, wat hulle egter nie alleen kan behartig nie.  “Ons het spoedig besef dat ons ander kerke, skole en selfs die sakewêreld moet betrek.  Die rivier moet in sy hele lengte (23 km) verdeel word en toegewys word aan 'n instansie wat dan volle verantwoordelikheid sal aanvaar vir die deel van die rivier aan hom toegewys.”

Hulle het AROCHA genader om oorhoofs hierdie projek te koördineer.  Hoewel dit nog nie amptelik aanvaar is nie, lyk dit asof hulle dit hulle Wes-Kaapse projek gaan maak na aanleiding van 'n vergadering wat hierdie week (20 April 2015) belê is.  By hierdie vergadering was verskeie rolspelers teenwoordig (persone van Cape Nature, enkele kerke, Friends of the Liesbeek River, Watershed Project, Botanical Society, AROCHA ens.)  Volgens Sydney was die reaksie oorweldigend positief en is 'n loods-komitee aangewys om 'n projekplan op te stel vir goedkeuring.

Intussen is ook begin met "Green Kids", kinders in die ouderdomsgroep Graad 4 - Graad 7 wat ook behulpsaam is met opruiming van rommel in die Durbanville-omgewing.

Die  Groentetuin Projek. Groente kaste NGK Durbanville Bothasig

Hierdie projek is ook 'n uitvloeisel van die Ekspo en bestaan daaruit dat Graad 3 kinders opgelei word om groentetuine in houers (kaste) te kweek.  Dit word op die kerkterrein gedoen en van die kinders word verwag om dan hulle eie groentetuine by die huis aan te lê. “Ons het reeds ons eerste oes van groente aan die begin van hierdie jaar gehad,” sê ‘n trotse Sydney en voeg by dat hierdie projek ook verder uitgebrei gaan word na gemeentes van informele nedersettings om mense te help om selfversorgend te raak ten opsigte van voedeselvoorsiening.

Blootstelling.

Die gemeente se diensaksie organiseer ook uitstappies in die natuur om mense aan die natuur bloot te stel en sodoende hulle te help om ‘n groter eensgesindheid met die natuur te kweek.  Só 'n naweek-uitstappie is gedoen na Platbos naby Gansbaai. Sodanige sensitering van gemeente en gemeenskap ten opsigte van hul Godgegewe verantwoordelikheid teenoor die skepping word as duidelike doelwit gestel, asook die inspirasie en koördinering van aktiwiteite om eko-vriendelik te lewe.

Sydney erken dat hulle nie te veel verskillende projekte wil begin nie maar eerder wil fokus op een of twee om sodoende te verseker dat hul hulpbronne groter impak maak.

Sydney en NGK Durbanville Bergsig herinner mens aan die woorde van die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer. Hy het gesê dat dade nie die uitvloeisel van denke is nie, maar ‘n refleksie is van die gereedheid om verantwoordelikheid te neem. Hopelik inspireer Sydney se getuienis ook ander gelowiges om die verantwoordelikheid om aardversorgers te wees met entoesiasme op te neem.

Johan Liebenberg vir SAFCEI Mei 2015